Hieruit ken ons die gees van die waarheid en die gees van die dwaling  
  1 Johannes 4:6  
         
         
Hierdie blad kan die beste besigtig word in 'Mozilla FireFox 2.x+' op 'n resolusie van 1024 x 768
 
       
Bestuur:
       
  Dr G J Meijer (Voorsitter)
  Mev J M Das (Administrasie)
  Mev J C de Wind (Sekretaris)
  Tel: (012) 332-4676
  e-pos: jokedewind@gmail.com
 
  Administrasie:
    Mev JM Das
    Adres: Waarheid en Dwaling
      Posbus 31712
      Totiusdal
      0134
    Tel: (012) 331-4733 (na 19:00)
    e-pos: jdirkdas@magalies.net
       
  Bankbesonderhede:
    Bank: ABSA
    Tak: Waverley Plaza, Pretoria
    Rek No: 9054701904 (Spaar)
 
 
  Die stare decisis beginsel in reg en kerkreg (1)
       
   

Stare decisis beteken om te staan by wat jy besluit het indien soortgelyke sake weer ter sprake kom. In kerkregtelike terme is dit die “vir vas en bindend hou“ van Artikel 31 van die Kerkorde. Stare decisis is 'n regsterm wat meer volledig lui: om te staan by wat besluit is en dit wat tot ruste gekom het nie weer in beroering te bring, of nie weer in beweging te bring nie1. Beginselbesluite word geneem, wat 'n mens presedente sou kon noem.

Die belang van 'n bespreking van hierdie regsbeginsel word duidelik uit die onrus wat ontstaan het rondom sekere sinodebesluite en die sogenaamde ratifikasiereg volgens Artikel 31 van die Kerkorde.

Die doel van hierdie twee artikels is om meer duidelikheid te bring rondom die beginsel van stare decisis (vir vas en bindend hou) en die uitsondering daarop: die “tensy” (nisi) asook die “bewys word” van Artikel 31 Kerkorde.

 
 
   

Geheeloorsig

 
 
   

Die eerste artikel handel oor die betekenis van stare decisis, asook oor die oorsprong van dié beginsel in die wêreldlike en die kerkreg. Die gebruik van die woord nisi (tensy) in Artikel 31 Kerkorde word kortliks bespreek. Die voorwaardelike gebruik daarvan, slegs met 'n goeie rede (causa), gegrond op noodsaak of nuttigheid, word kortliks verduidelik.

In die tweede artikel word stare decisis in konteks geplaas soos Artikel 31 Kerkorde dit gebruik. Daar is 'n kort bespreking oor die verskil tussen tensy en totdat en die gevolge wat dit vir die praktiese toepassing van Artikel 31 Kerkorde inhou. Daar word ook op die bewysvoering binne kerkraadsverband ingegaan.

Ten slotte word ’n oorsigtelike samevatting van die twee artikels gegee.

 
 
   

Stare Decisis in die wêreldlike reg

 
 
   

Hoewel die leerstuk (doctrine) van stare decisis nie in elke regstelsel erken word nie, word die beginsel van die jurisprudence constante wel algemeen erken. Regspraak moet onafhanklik wees. Dit word van die regbank verwag om voorspelbare (konstante) en nie-chaotiese besluite te neem.

Die regmatige verwagting van die (kerk)gemeenskap, soos verwoord in Artikel 31 Kerkorde, kan met die woorde “vir vas en bindend hou, tensy bewys word” na 'n beginsel van natuurlike geregtigheid teruggevoer word. By die natuurreg word daar aanvaar dat daar naas 'n tyd- en plekgebonde regsorde 'n diepere en hoëre regsorde bestaan. Regskennis en morele kwessies word dan nie meer van mekaar geskei nie.

Die Griekse filosowe het 'n groot invloed op die vorming van die Romeinse Reg uitgeoefen, maar die Christendom in die middeleeue het die natuurreg veral afgelei van die orde wat God in sy skepping neergelê het2. Die natuurreg is opnuut deur Hugo de Groot (1583-1645) in sy klassieke boek getiteld “Die Reg van Oorlog en Vrede” geformuleer. 3

Ongetwyfeld was die gedagtegang van Hugo de Groot, soos hy dit in sy boek weergegee het, by die Dordtse kerkvaders goed bekend, aangesien hulle regstreeks met hom te doen gehad het – negatief bedoel in die sin dat hy vir die Arminiane gekies het wat deur die sinode as ketters veroordeel is (sien voetnoot 3).

Die bestaande natuurregbeginsels en verdere denke van regsgeleerdes, soos Hugo de Groot, het intussen 'n groot invloed op die ontstaan van die Romeins Hollandse Reg uitgeoefen. In die Nederlande het die Romeins Hollandse Reg tydens die formulering van die Dordtse Kerkorde die algemeen heersende reg geword.

 
 
   

Vertikale en horisontale Stare Decisis

 
 
   

Die beginsel dat 'n mens vasstaan by wat besluit is, kan vertikaal vanaf laer howe na hoër howe, tot in die allerhoogste hof toegepas word. Die laer howe in hierdie hiërargie volg dan die voorbeeld wat deur die hoër howe daargestel is.

Die horisontale toepassing van die beginsel geskied wanneer 'n regbank homself gebonde hou (of in elk geval respek toon) aan beslissings wat voorheen deur howe op dieselfde vlak geneem is.

 
 
   

Toepassing van Stare Decisis

 
 
   

In die siviele reg word die beginsel oor die algemeen soepel toegepas, nieteenstaande die feit dat sommiges meen dat net die wetgewer bindende gesag daar kan stel. Alhoewel die regbank dus in beginsel nie gebind is nie, moet hy in praktyk vanweë regsekerheid voorspelbaar wees. Howe kan van die reël van stare decisis afwyk, veral as voorafgaande beslissings neig om met die Grondwet in konflik te kom.

Stare decisis verskaf aan ons regstelsel egter 'n mate van kontinuïteit. As daar wel van 'n voorafgaande soortgelyke saak se beslissing afgewyk word, rus daar 'n bewyslas op die regbank om aan te toon wat die korrekte uitspraak moet wees. Daar bestaan dus 'n sogenaamde weerlegbare vermoede dat 'n bepaalde saak volgens 'n bepaalde beginsel en volgens voorafgaande uitsprake oor daardie bepaalde beginsel gehanteer sal word.

In ons land is die konstitusionele hof die hoogste hof in grondwetlike sake. As voorbeeld van hoe die grondwet betreffende die doodstraf uitgelê moet word, het die konstitusionele hof in die Makwanyane-saak besluit dat die oplegging van die doodstraf in stryd is met die beginsel van die Handves van Menseregte, soos vervat in hoofstuk 2 van die grondwet. Geen hof, hoër of laer, mag dus die doodstraf oplê op grond van 'n misdaad nie.

 
 
   

Voor- en nadele van Stare Decisis

 
 
   

Die voordeel van stare decisis is dat daar 'n mate van voorspelbaarheid oor bepaalde sake is. Dit werk regsekerheid in die hand. Die nadele van stare decisis is dat 'n regbank in 'n bepaalde rigting ingedwing en daardeur gebind word. Dit sou ondemokraties wees, omdat regters die wet moet volg wat hulleself neergelê het. By grondwetlike sake kan dit ondermynend van die gesag van die grondwet wees om voorafgaande (verkeerde) besluite te volg. Die grondwet skryf in elk geval stare decisis nie as verpligtend voor nie. Met die uitleg van die grondwet moet internasionale reg in berekening gebring en mag buitelandse reg oorweeg word (Artikel 39).

 
 
   

Reëls van uitleg van wette

 
 
   

Dit is interessant om te noem dat by die uitleg van enige wet, insluitende die grondwet, in enige regspraak, soos by stare decisis, uitlegreëls geld wat universeel toegepas word4. Hou hierby sinodebesluite in gedagte.

Behalwe om na die wetgewer se wils- of gedagte-inhoud te soek moet sy bedoeling in berekening gebring word. Woorde moet volgens hulle gewone betekenis verstaan word. Algemene woorde moet algemeen verstaan word. Daar moet nie buite die woorde van die wet gegaan word nie en aan elke woord moet 'n betekenis toegeken en geskryf word.

Daar kan 'n afwyking van 'n letterlike uitleg by byvoorbeeld dubbelsinnige woorde toegelaat word. Die wet kan beperkend uitgelê word om aan die werklike bedoeling van die wetgewer gevolg te gee, maar ook meer ekstensief as dit die bedoeling beter weergee.

Die woorde van 'n wet is nie die enige en uitdruklike kenbron van die wil van die wetgewer nie; daar kan ook vermoedens geskep word.

 
 
   

Ontwikkeling van die kerkreg uit die wêreldlike reg

 
 
   

Kerk en staat was aan die begin van die Romeinse Reg nie duidelik geskei nie. Sonder om uitgebreid hierop in te gaan, is dit duidelik dat die kerk al baie vroeg begin het om sy eie sake te hanteer met eie hofgedinge en -beslissings. Die kerk het die Romeinse Reg as sy uitgangspunt geneem, wat op die Institute en die Codex van keiser Justinianus gebaseer is. Die kerk het geleidelik die Romeinse Reg aangevul met sy eie (beginsel)besluite, wat deur kerklike vergaderings geneem is, asook by wyse van pouslike dekrete en kerklike gewoontereg5.

Hierdie regstelsel, wat later die kanonieke reg genoem is, is nie net in kerklike aangeleenthede toegepas nie, maar ook in alledaagse sake soos huwelike en handelsake. Appèlsake is al hoe meer in Rome aangehoor en beslis. Die kanonieke reg is in die twaalfde eeu deur Gratianus, 'n monnik van Bologna, sistematies ingedeel en opgeskryf6. Dit is in regsfakulteite van Bologna en Orléans gedoseer.

In 'n uitspraak van Pous Innocentia III gedurende 1203 word vermeld dat in sake waar die pous 'n beslissing geneem het, ander regters in soortgelyke sake dieselfde besluite moet neem, tensy (nisi forte) die regter 'n ander besluit moet neem om rede van noodsaaklikheid of nuttigheid (deugdelikheid)7.

Pous Alexander III (1159-1186) het reeds baie uitsprake in appèlsake wat vir 'n christelike samelewing van belang is, gelewer8.

Bernardus Parmensis (1250) het vasgestel dat 'n primêre uitspraak oor 'n saak duidelik moet wees omdat ander hulle besluite in ooreenstemming daarmee moet gee9.

Parnormitanus (1430) vermeld dat die Pous die regte pad in sy besluitneming moet volg, omdat laer regters hulle besluite in ooreenstemming met die Pous se besluit moet neem, as (si) die pous sy besluit regverdig en reg geneem het.

 
 
   

Ou kerklike gebruik van nisi en si

 
 
   

By die ontwikkeling van die kanonieke reg blyk dit al duideliker dat daar onder bepaalde omstandighede van die besluite van die hoogste hof afgewyk kan word. Dit mag egter slegs gebeur as vorige besluite in ag geneem is, en tensy (nisi/nisiforte) daar 'n goeie rede (causa) daarvoor bestaan. Die rede moet in noodsaak of nuttigheid gegrond wees.

In die lig hiervan kan moontlik aanvaar word dat die “tensy bewys word” van Artikel 31 van die Dordtse Kerkorde nie net sy oorsprong in die belydenis van die kerk en dus ook in die Heilige Skrif het nie10. Dit maak al 'n aantal eeue vantevore sy verskyning in kerkregtelike uitsprake van die hoogste gesag van daardie tyd, naamlik die pouse.

 
 
   

Nisi en causa

 
 
   

Die voorwaarde om van kerklike uitsprake af te wyk moet noodsaaklik of nuttig wees. Met ander woorde: noodsaak of nuttigheid moet die oorsaak (causa) wees van die nie-hou aan bestaande beslissinge. In die reg is kousaliteit 'n goed uitgewerkte begrip. In kort kom dit daarop neer dat die een saak aan die ander saak gekoppel kan word.

In die kerklike lewe vind die abdikasie van die besluite van meerdere vergaderinge sy oorsaak (causa) in die feit dat 'n meerdere kerklike vergadering 'n verkeerde besluit geneem het. Dit moet egter op grond van die enigste bron wat noodsaaklik en nuttig is, die Heilige Skrif, of in die onderling ooreengekome kerkordelike reëls verkeerd bewys word.

 
 
   

Independentisme

 
 
   

Om van beslissings af te wyk terwyl dit nie met grondige redes bewys is dat die betrokke beslissing onregmatig is nie, is al vroeg in die geskiedenis afgewys. Die wêreldlike reg het dit nie ongegrond toegelaat nie, en die kerkreg ook nie. Om besluite te ignoreer of eenvoudig langs jou neer te lê, is eiewillige breuk van 'n (kerk)-band. Dit is ontoelaatbaar.

Om sinodebesluite af te wys terwyl 'n appèlproses teen die betrokke besluit aan die gang is en nog nie afgehandel is nie, is 'n ander vorm van independentisme. Dit is nie net onwys om so op te tree nie, maar bevorder 'n chaotiese toestand binne die kerkverband.

 
 
   

Kerkregposisie tydens Sinode van Dordt 1618-1619

 
 
   

Die Reformasie het met die oppergesag van die pous en ook met die gesag van die kanonieke (kerk)reg gebreek. Hoewel kerk en staat nie streng geskei was in die tyd van die Reformasie nie, het die geleidelik ontwikkelende Romeins-Hollandse reg as die heersende reg gegeld.

Die Reformasie se beginsels was onder andere sola scriptura. Alles moet aan die Skrif getoets word of dit waar en reg is. 'n Kerkorde moes daargestel word om die kerklike riglyne oor samewerking te gee en hoe om kerklike sake te hanteer.

Die invloed van die kanonieke reg op die denke van die opstellers van die Kerkorde, wat by die Dordtse Sinode finaal sy beslag gekry het, moet sekerlik nie onderskat word nie. Gesien die feit dat teoloë dikwels goed in die regte onderlê was (baie het eers regte gestudeer en daarna teologie, soos Calvyn), is dit nie onmoontlik nie dat die tensy (nisi- beginsel vanuit 'n ou kerktradisie in Artikel 31 geplaas is. Dit is egter opnuut gefundeer, nou vanuit die Skrif.

Die plaaslike kerk is vanaf die tyd van die Reformasie die eerste, belangrikste bediening van gesag. Dit neem nie weg dat daar samewerking in breër verband moet wees nie (Artikel 29 Kerkorde). Die verhouding tussen plaaslike kerk en kerkverband verklaar die toevoeging van die voorwaardelike “tensy” in Artikel 31 Kerkorde.

Op grond van bogenoemde moet die slotsom van dr Jan Visser11, wat sê dat die GKSA geen presedensiële kerkregering het nie, met alle respek afgewys word. Skriftuurlike kerkregering sluit nie 'n presedente-stelsel uit nie. Kerklike besluite wat vir vas en bindend gehou moet word, is presedente. Dit is die rigtinggewers binne die kerke. Dit is die stare decisis-beginsel waarby dan vasstaan wat jy besluit het. Die “tensy” van Artikel 31 is juis die bewys dat vorige besluite as algemene reël gerespekteer en toegepas moet word. Maar: op die algemene reël kan 'n uitsondering ontstaan.

 
 
   
   
1
2
3
4
5
6
7
8
9
10
11
 
U is besoeker nommer 104738 vanaf 1 Mei 2005 Suid-Afrika tyd is nou 11/11/2024 10:30:04 
Die ontwikkeling en onderhouding van die www-tuiste word versorg deur Jaco Boersema (jeboersema@gmail.com)