Hieruit ken ons die gees van die waarheid en die gees van die dwaling  
  1 Johannes 4:6  
         
         
Hierdie blad kan die beste besigtig word in 'Mozilla FireFox 2.x+' op 'n resolusie van 1024 x 768
 
       
Bestuur:
       
  Dr G J Meijer (Voorsitter)
  Mev J M Das (Administrasie)
  Mev J C de Wind (Sekretaris)
  Tel: (012) 332-4676
  e-pos: jokedewind@gmail.com
 
  Administrasie:
    Mev JM Das
    Adres: Waarheid en Dwaling
      Posbus 31712
      Totiusdal
      0134
    Tel: (012) 331-4733 (na 19:00)
    e-pos: jdirkdas@magalies.net
       
  Bankbesonderhede:
    Bank: ABSA
    Tak: Waverley Plaza, Pretoria
    Rek No: 9054701904 (Spaar)
 
 
  Ons Wonderlike Wêreld
       
   
Inleiding
Die woord wonderlik is hier letterlik bedoel – die wêreld is vol wonders. Iemand het dit mooi geformuleer:
  Ons planeet Aarde is waarlik 'n wonder – 'n seldsame, pragtige juweel in die ruimte. Ruimtevaarders het gesê dat die aarde se blou hemel en wit wolke, soos vanuit die ruimte gesien, "dit verreweg die aantreklikste voorwerp gemaak het" wat hulle kon sien.
Op sy beurt het Lewis Thomas in Discover, Junie 1981, geskryf: "Die aarde is die grootste van alle kosmologiese, wetenskaplike raaisels, en dit ontwyk al ons pogings om dit te verstaan".
Evolusioniste ontken dit en meen dat alles, die wêreld inkluis, toevallig en planloos ontstaan het. Ons kan as getuie die invloedryke filosoof, Bertrand Russel, aanhaal. Hy was 'n positivis, dit wil sê iemand wat oortuig was dat net positiewe gegewens, (feite) wat deur die sintuie waargeneem kan word, bestaan. In 1935 skryf hy Religion and Science, waarin hy stel: "Before the Copernican revolution, it was natural to suppose that God's purposes were specially concerned with the earth, but now this has become an implausible hypothesis". Ons moet die bestaan van die mens eerder beskou as "a curious accident in a backwater". Dit is tot vandag die algemene evolusionistiese opvatting.
Ons gaan vanaand aantoon hoe verkeerd Russel en alle evolusioniste is deur aan te toon dat dit juis die sigbare dinge is wat vol wonders is. Ons beperk ons tot die aarde.
In 1973 is Copernicus se 500ste verjaarsdag met groot fanfare in Pole gevier. Dit was by hierdie geleentheid dat die Engelse astrofisikus van Cambridge, Brandon Carter, met sy voordrag rimpelings veroorsaak het wat nog nie weer gaan lê het nie. Die titel van sy voordrag sê vir ons, sterrekundige leke soos meeste van ons is, nie veel nie. Dit lui: "Large Number Coincidences and the Anthropic Principle in Cosmology". In kort het Carter die antropiese beginsel1 omskryf deur te stel: "what we can expect to observe [in the universe] must be restricted by the conditions necessary for our presence as observers". In eenvoudi¬ge taal: al die oënskynlik arbitrêre konstantes in die fisika (bv. die waardes van swaartekrag en van elektromagnetiese krag) het één vreemde ding in gemeenskap – dis presies die waardes wat noodsaaklik is om 'n heelal te hê waarin lewe kan gedy. As die grootte van swaartekrag byvoorbeeld 'n fraksie kleiner of groter was as wat dit is, was daar nie lewe op aarde moontlik nie. Die bekende sterrekundige, Fred Hoyle (self teenstander van die oerknalteorie), gee ons 'n kykie in die diepte van die misterie:
  All that we see in the universe of observation and fact, as opposed to the mental state of scenario and supposition, remains unexplained. And even in its supposedly first second the universe itself is acausal. That is to say, the universe has to know in advance what it is going to be before it knows how to start itself.
Die antropiese beginsel sien ons in die aard van ons aarde. Let op die volgende omstandighede wat lewe moontlik maak (H D. Mouton Skepping en Evolusie – Onversoenbaar! (Junie 2007:103-111)
1. Die afstand van de son af
  Die aarde is 'n planeet van die son en wentel in 'n byna perfekte sirkel om die son op 'n gemiddelde afstand van 150 miljoen km. Al die ander planete (behalwe Venus en Neptunus) draai baie meer eksentries; hulle het dus elliptiese bane.
  Die temperatuur van die aarde is krities vir die ontstaan en bloei van lewe. Die temperatuur word deels bepaal deur a) die temperatuur van die son self; b) die afstand tussen die son en die aarde; c) die byna perfekte wenteling om die son, wat verseker dat die afstand tussen son en aarde feitlik altyd konstant bly. Die resultaat van die inspeel van hierdie drie faktore op mekaar is dat dit 'n groot rol speel in die ongelooflik nou uiterstes van temperatuur van rofweg tussen 0°C en 40°C. Hoe nou hierdie grense is, word duidelik in vergelyking met Neptunus se -220°C en Venus se +460°C.
2. Die aarde se rotasiepoed
  Om 'n gunstige temperatuur te verkry moet die aarde ook teen die regte spoed om sy eie as draai. As die aarde te stadig sou draai, sou die uiterstes van dag- en nagtemperatuur te groot wees. Wanneer die aarde te vinnig sou draai, sou dit die weersiklusse negatief beïnvloed omdat die verskil tussen dag- en nagtemperatuur te min sal verskil. Minder reën sou val en die vinnige rotasie sou gasse van die atmosfeer in die buitenste ruimte laat ontsnap.
3. Die omwenteling om die son
  Om een maal om die son te wentel neem die aarde 365.25 dae. Gevolglik is die vier seisoene geskik om lewe te onderhou. Die bome kan blom en hulle vrugte dra; die boere kan saai en hulle oes insamel. Van mier tot mens kan genoeg kos opgaar om die (relatief) kort winter te oorleef. Mens dink hier aan die belofte aan Noag dat saaityd en oestyd nie sal ophou nie (Gen.8:22). Seisoene van ander planete maak oorlewing uiters moeilik of totaal onmoontlik.
  (Illustrasie van Dennis Bagnall in John Earle, Die Weer, 1980:7)
4. Die skewe aarde
  Soos reeds in punt 2 hierbo gestel, draai die aarde teen 'n gunstige spoed vir lewe om sy eie as. Wanneer hierdie as ten opsigte van die son loodreg vertikaal sou wees, sou die sonstrale met die kortste pad altyd dwarsdeur die jaar loodreg op die gebiede om die ewenaar geval het – iets wat die tropiese gebiede onbewoonbaar sou gemaak het weens die hitte. Maar ten opsigte van die son draai die aarde nie presies vertikaal om sy eie as nie maar lê "skeef" met 'n hoek van 23.5 grade weg van horisontaal af. Kom ons stel dit voor: die aarde lê 23.5 grade (na regs) en beweeg in die regter helfte van sy sirkel om die son; Dan lê die suidelike helfte van die aarde nader aan de son; maar wanneer die son sy baan links rondom voltooi, lê die noordelike helfte weer nader. Ons beleef dit as beweging van die son van Suid na Noord en terug tussen die twee keerkringe – dit wil sê as somer en winter. Hierdie "skewe" posisie van die aarde het nog 'n ander gevolg ook: die sonstrale val nou altyd skuins deur die aarde se atmosfeer op die ewenaar en maak dit daardeur koeler en bewoonbaar. Kort gesê: Die "skewe" aarde het 'n stabiliserende uitwerking op die seisoene, maak die koue pole warmer en die ewenaar kouer en groter dele van die aarde bewoonbaar.
5. Die unieke samestelling van die atmosfeer
  Die atmosfeer bestaan uit 78.1% stikstof, 20.1% suurstof en minder as 2% ander gasse. Dis 'n totaal ander samestelling as dié van byvoorbeeld Venus met sy 96.4% en Mars met sy 95% koolstofdioksied. Laasgenoemde is die gevaarlike "kweekhuisgas" waarteen daar tans so hard baklei word. [So onder ons: vir de jongeres is daar moed te skep, want so veertig jaar gelede (1970 en later) het presidente en wetenskaplikes gewaarsku teen 'n nuwe ystydperk!] Hoe dit ook al sy, koolstofdioksied is dodelik vir organismes. Die normale konsentrasie daarvan op aarde is minder as 0.03%.
  Die ruim hoeveelheid stikstof is noodsaaklik vir organismes want a) dit verseker genoeg absorbering van gevaarlike sonstrale; b) voorsien die korrekte verdunning van suurstof; c) bied voldoende dikte aan die atmosfeer. As die atmosfeer groter was sou sonstrale meer uitgefiltreer word en fotosintese van plante benadeel word. As die atmosfeer kleiner was, was ultraviolet bestraling van die son gevaarliker vir lewende organismes.
  Ultravioletstrale bring ons by 'n ander unieke eienskap van ons atmosfeer – die osoonlagie. Op die oog af onbenullig klein – een O3 molekuul op 100 000 of, anders bereken, 0.000007 van die atmosfeer – is dit 'n lewensnoodsaaklike skerm teen ultraviolet strale.
  Suurstof is ook noodsaaklik vir lewe. Die aarde se atmosfeer bevat die regte hoeveelheid. As daar meer was (sê 50% van die atmosfeer), sou die mens suurstofvergiftiging (w.o. longskade en verminderde hartvermoë) gekry het; as daar minder was, sou die liggaam se selle, en veral die breinselle, 'n knou gekry het.
  'n Skrywer in The New England Journal of Medicine, 'n gesaghebbende mediese tydskrif, meen:
 
  In die geheel beskou, is die lug 'n wonderbaarlike deel van die aarde. Vir die doel waarvoor dit gemaak is, is dit so onfeilbaar soos enigiets anders in die natuur.
6. Unieke samestelling van grond
  Grond het eienskappe wat onontbeerlik vir plante is. Met sonlig vind fotosintese plaas – plante absorbeer noodsaaklike chemiese elemente uit die grond, haal koolstofdioksied uit die lug en produseer so voedsel vir dier en mens. Suurstof word weer in die lug vrygestel.
7. Unieke samestelling van grond
  "n Nederlandse natuurkundige het 'n boekie geskryf met die titel Die lied van die water. Wat hy in 'n boek vertel, moet hier in 'n paar woorde gesê word. Ongeveer driekwart van die aardoppervlakte word deur water beslaan. Met die hoogste soortlike warmte van alle vloeistowwe is die see 'n hoogs effektiewe stabiliseerder van temperatuur en boonop as bron van waterdamp en reënvorming op sy beurt 'n soort "lewegewer" aan alle aardse skepsels. Enig onder die vloeistowwe ys water van bo af ( ysblokkies dryf in geskinkte Coke!) en verseker so die oorlewing van waterlewe (plante en diere) tydens die ysige wintermaande.
Gods ewigheid en aardse tyd
God is self ewig en is nie gebonde aan enige tyd nie, ook nie aan aardse tyd nie. God [was daar voordat Hy tyd geskep het] het vanuit sy ewige tydloosheid tyd deel van Sy geskape hemel en aarde gemaak, m.a.w. God het nie tyd voorafgegaan nie. Dit stel die Kerkvader Augustinus in die elfde boek van sy Confessions wat handel oor tyd. Hierdie boek is eintlik geskryf as 'n gebed tot God. Hy onderskei skerp tussen God se skeppingswerk, wat vanuit die ewigheid uitgevoer is, en tyd, wat 'n resultaat van God se skeppingswerk is. Sy gevolgtrekking is dat nie slegs hemel en aarde en alle dinge in die hemel en op aarde hulle oorsprong in tyd het nie, maar dat tyd self 'n skepping van God is, van God Wie ewig en daarom tydloos is. Met besondere insig skryf Augustinus:
"How could those countless ages have elapsed when you, the Creator, in whom all ages have their origin, had not created them? What time could there have been that was not created by you? ... You are the Maker of all time ... for time could not elapse before you made it ... But if there was no time before heaven and earth were created, how can anyone ask what you were doing "then"? If there was no time, there was no "then" ...
"Furthermore, although you are before time, it is not in time that you precede it. If this were so, you would not be before all time. It is in eternity, which is supreme over time because it is a never-ending present, that you are at once before all past time and after all future time ... It is therefore true to say that when you had not made anything, there was no time, because time itself was of your making ... What then is time? I know well enough what it is, provided nobody asks me; but if I am asked what it is and try to explain, I am baffled."
Berekening van ouderdomme
Die mens is deel van die geskiedenis van die aarde wat sy verloop geneem het nadat die skepping, volgens die Bybel, deur bonatuurlike skeppingsdade deur God voltooi is. Aan die mens is die vermoë gegee om die aarde te bewerk en te versorg sodat hy / sy uitvoering aan God se kultuuropdrag (Gen 1:28, 2:15) kan gee. Daarvoor het God die mens na Sy beeld geskep. God het die mens intelligent geskep om met Hom te kommunikeer en om Sy medewerker op aarde te wees. Die vroegste bestaan van hierdie intelligente mens vind die argeologie (oudheidkunde) in die eerste nedersettings waar mense begin saamwoon het en deur georganiseerde landbou en veeteelt hulle voedsel verkry het. Daar het toe ook spoedig handel tussen gevestigde gemeenskappe ontstaan. Hierdie kultuurskeppende mens het volgens die argeologie skielik op aarde verskyn sowat 9000 jaar gelede (N. Hammond, et al., Wonders of the Ancient World, National Geographic Atlas of Archaeology, Published by The National Geographic Society, Washington DC. 1999).
Hierteenoor werk die paleontologie (fossielkunde) en geologie (aardkunde) met ouderdomme van fossiele en gesteentes wat volgens die wetenskap veel meer as 9000 jaar gelede ontstaan het. Die ouderdom van eerste rotse op aarde bepaal die wetenskap op ongeveer 4000 miljoen jaar, terwyl die paleontologie fossiele van mikroskopiese lewe vind wat volgens die wetenskap amper net so oud is. Kan hierdie hoë ouderdomme van fossiele en gesteentes as bewese feite aanvaar word?
Hierdie ouderdomme word deur verskillende wetenskaplike metodes bepaal, waaronder die radioaktiewe verval van uraan- en toriumkerne tot lood, en van kalium tot argon. Ouderdomme word bereken uit die hoeveelheid loodisotope in verhouding tot die uraan of torium, of van argon ten opsigte van kalium in die monster. Hierdie berekeninge is niksseggend as oor die miljoene tot miljarde jare die vervalprodukte lood of argon uitgeloog is deur water of verwyder is deur erosie en wind.
Die geologiese wetenskap aanvaar die standaard geologiese kolom as 'n basis vir klassifisering van sedimentêre gesteentes in aardlae. Hierdie klassifikasie van aardlae aanvaar dat die 12 voltooide lae van die geologiese kolom een na die ander geleidelik gevorm het. Die onderste laag het ontstaan in die voor-Kambriese periode en bevat slegs fossiele van een- en meersellige mikrobes. Daarna, ongeveer 570 miljoen jaar gelede, het die volgende laag in die Kambriese periode begin vorm met sy tiperende, nou makroskopiese fossiele. Gedurende die Tersiêre periode het die twaalfde laag gevorm. Hierdie aardlaag word gekenmerk deur fossiele van soogdiere. Daarna volg die huidige Kwartêre periode met fossiele van primate en die mens. Hierdie standaard geologiese kolom aanvaar nie dat aardlae deur katastrofiese prosesse gevorm is nie, maar dat die aarde, soos ons dit vandag waarneem, geleidelik gevorm het vanuit 'n gaswolk 4500 miljoen jaar gelede, waarna die opvolgende aardlae een na die ander geleidelik gevorm het, elkeen met kenmerkende fossiele, vanaf die mees elementêre tot die mees ontwikkelde, die soogdiere.
Die wetenskap aanvaar dat die hede die sleutel tot die verlede is. Die verlede kan nie gekontroleer word nie omdat die mens nie in tyd kan terug beweeg nie. Daar is redelike ooreenstemming in argeologiese ouderdomsbepaling sedert Abraham met tydsbepalings uit die Bybel. Hierteenoor bepaal die paleontologie nie die ouderdomme van fossiele nie, maar dit word uit die ouderdomme van grondlae waar 'n fossiel gevind word, afgelei. Grondlae se ouderdomme word volgens die geologiese kolom bepaal, wat indeksfossiele gebruik. 'n Indeksfossiel sou op 'n bepaalde tyd in die evolusionistiese ontwikkeling voorgekom het. Dit kom neer op sirkelredenasie.
As 'n persoon nie kennis het van sy geboortedatum nie of as hy nie 'n geboortesertifikaat het nie, weet hy nie hoe oud hy is nie. Om byvoorbeeld die ouderdom van die Zimbabwe-ruïnes te bepaal, moet ons weet wanneer dit gebou is of wanneer die mense wat dit gebou het, geleef het. Net so, om te weet wat die ouderdom van die aarde is, moet ons weet wanneer die aarde gevorm is. Daar was nog geen mens om die tydstip van die vorming van die aarde aan te teken nie. Die Woord van God sê slegs dat God in die begin hemel en aarde geskep het (Gen 1:1), maar dit sê nie hoe lank gelede dit was nie of hoeveel tyd sedertdien verloop het nie.
Radioaktiewe isotoop-klokke is slegs betroubaar vir ouderdomsberekeninge van rotse met minerale, wat radio-aktiewe isotope bevat, as isotoopverhoudings nie deur verwering verander word nie. Minerale in meteoriete is veronderstel om nie aan verwering blootgestel te wees nie. Die ouderdomme wat uit isotoopverhoudings in meteoriete bereken word, kan alleen gelyk aan die ouderdom van die aarde wees as die evolusionistiese veronderstelling waar is dat die aarde, die ander planete en meteoriete almal uit dieselfde gaswolk om die son gelyktydig gevorm is.
Verval van radioaktiewe stowwe in meteoriete lewer 'n ouderdom van 4,5 duisend miljoen jaar, terwyl berekening byvoorbeeld uit die akkumulasie van sout op die seebodem lewer 'n maksimum ouderdom van 89 miljoen jaar vir die aarde [oplewer]. Geen konsistensie in ouderdom word gevind uit meetresultate van verskillende fisiese prosesse nie. Ons is daarom nie in staat om die ouderdom van die aarde te bereken nie. Daar is aanduidings op grond van die eenvormigheidsbeginsel (uniformitarianisme) dat die aarde oud is, maar oortuigende gegewens bestaan ten gunste van 'n jong aarde.
Ouderdom van die heelal
Newton het die swaartekragswet ontdek. Dit beteken dat elke hemelliggaam deur al die ander hemelliggame aangetrek word. Die vraag is dan: hoekom sak die sterrehemel dan nie in mekaar nie? Newton se oplossing was dat die sterre eweredig versprei is en die sterrehemel oneindig groot is – m.a.w. dat die sterrehemel nie 'n middelpunt het nie. As daar 'n middelpunt was, sou alle materie soontoe versnel het.
As 'n oneindige groot heelal altyd daar was, sal lig van alle sterre by die aarde aankom en die aarde helder verlig. Die sterrehemel is egter deurgaans donker, wat beteken dat die sigbare sterrehemel 'n eindige grootte moet hê of jonk moet wees – jonk sodat ver sterre se lig nog nie by die aarde aangekom het nie. Die probleem van stabiliteit van 'n eindig-groot heelal is opgelos met die ontdekking van die rooiverskuiwing van galaksies se spektraallyne en die gepaardgaande verklaring dat die rooiverskuiwing veroorsaak word deur 'n uitdying van die heelal vanaf 'n groot ontploffing (oerknal) sowat 15 duisend miljoen jaar gelede.
Newton het sy oneindig-groot heelal beskryf met tyd wat oral dieselfde was, terwyl Einstein die uitdyende heelal beskryf met ligsnelheid wat oral dieselfde is. In Newton se heelal was tyd altyd daar, terwyl in Einstein se heelal het tyd 'n begin gehad met die oerknal en is die verloop van tyd afhanklik van swaartekrag en van beweging.
Op wetenskaplike gronde is daar geen rede waarom die tempo van tydsverloop in 'n bepaalde plek nie ook met die verloop van tyd kan verander nie. Daar bestaan geen eksterne metode om verandering in die verloop van tyd te bepaal nie. Vir berekening van ouderdomsberekeninge moet daarom aanvaar word dat die verloop van tyd onveranderlik is, dit wil sê, soos tyd vandag op aarde verloop, verloop dit tot by die verste sterre, en verloop dit ook dieselfde in 'n verre verlede en sal dit dieselfde bly verloop tot in die verre toekoms. Dit is bekend as die eenvormigheidsbeginsel.
 
 
   
   
1
 
U is besoeker nommer 70194 vanaf 1 Mei 2005 Suid-Afrika tyd is nou 15/10/2024 15:43:24 
Die ontwikkeling en onderhouding van die www-tuiste word versorg deur Jaco Boersema (jeboersema@gmail.com)